Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 10 Maart 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van Edgar W Abraham, ZS6AFF, onlangs stil geraak het. Edgar was voorheen 'n lid en voorsitter van die ou Wes Transvaal tak van die SARL.

Ons innige meegevoel aan Edgar se familie en vriende.

POUSE)

IN DIE NUUS VANDAG:

GROOT HUPSTOOT VIR DIE ANTENNA-VERDEDIGINGSFONDS VERBY DIE R50 000 TEIKEN

OKOSA STEL NUWE HOOFBESTUURDER - LISENSIËRING AAN

GEAFFILIEERDE KLUBS, MOET OPSIENERS EN HF ASSESSORS REGISTREER VIR 2013
U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

GROOT HUPSTOOT VIR DIE ANTENNA-VERDEDIGINGSFONDS VERBY DIE R50 000 TEIKEN

Die SARL verdedigingfonds het 'n 900 Euro bydrae van Barry Fletcher, ZS1FJ, ontvang. In randwaarde is dit gelykstaande aan R10 270. Dankie aan Barry en al die ander bydraers. Die SARL-Raad het die oorspronklike teiken van R50 000 beplan, maar aanduidings is dat meer nodig mag wees. Hou die bydraes aan die kom. Ons het u ondersteuning nodig. Vir besonderhede oor die veldtog, en wat reeds bygedra is, klik op menu aan die linkerkant van www.sarl.org.za en kies Antenna Defence Fund.

OKOSA STEL NUWE HOOFBESTUURDER - LISENSIËRING AAN

OKOSA het Ronnie Seeber as hoofbestuurder lisensiëring aangestel. Ronnie Seeber het baie jare se ondervinding in die telekommunikasie-industrie. Voordat hy 'n aantal jare gelede sy eie netwerk raadgewende besigheid begin het, was hy Bestuurder vir Staatskakeling by Motorola.

OKOSA SARL SAMEWERKINGVERGADERING VERLEDE DONDERDAG

Die vergadering is onder voorsitterskap van Phil Molefe, die Waarnemende Algemene Bestuurder Lisensiëring, gehou. Die vergadering was ook bygewoon deur die nuwe algemene bestuurder vir lisensiëring.

Die vestiging van oor die grens werking in SAOG-lande is nou op die agenda vir die volgende CRASA-vergadering op 5 Junie. Die SARL het 'n dokument verskaf aan OKOSA wat getaak is om 'n item op die sakelys voor te berei vir oorweging op die volgende vergadering van die SAOG-reguleerders. Daar is tans 'n baie omslagtige stelsel in werking waar 'n besoeker van die SAOG-lande aansoek kan doen vir toestemming om in Suid-Afrika bedrywig te wees deur 'n versoek per e-pos, met 'n afskrif van die lisensie, aan OKOSA te stuur.

OKOSA het twee 5 MHz frekwensies geïdentifiseer vir proefnemings deur radioamateurs ter voorbereiding vir die WRC 15 se konferensie. Die aanbeveling sal aan die OKOSA-Raad vir goedkeuring voorgelê word. Hulle verwag binne die volgende paar weke terugvoering van die Raad. Die voorstel aan die OKOSA-Raad sluit ook die toekenning van die 479 kHz frekwensie op 'n sekondêre basis aan radioamateurs in.

'n Lang bespreking het plaasgevind oor die besit van deurlopende instem toerusting. Hoewel die SARL verskeie pogings aangewend het om hierdie klousule verwyder te kry, is OKOSA nie oortuig nie. Daar is ooreengekom dat OKOSA na 'n interne bespreking weer sal kyk na die klousule en aan die SARL terug rapporteer.

Die SARL se aansoek vir hoër krag, wat tydens die SARL-OKOSA werkgroep in Desember 2012 ter tafel gelê was, is hersien. OKOSA was nie gemaklik oor 32 dBW nie, maar het aangedui dat 30 dBW, wat gelyk is aan 1 kW, oorweeg kan word in die HF-bande waar amateurradio eksklusiewe gebruik het. Die SARL is versoek om ter voorbereiding vir die hersiening van die regulasies, die tabel van die radiofrekwensiespektrum te hersien om die hoër krag op die bande aan te dui. Dit is net die begin van die formele proses en radioamateurs moet nie verwag dat 'n vroeë verandering in die regulasies sal plaasvind nie.

Die vraag, of die HF logboek elektronies gehou mag word, is ook bespreek. OKOSA was van dieselfde mening as die SARL dat 'n log, 'n log is en wel elektronies gehou mag word.

'n Aantal roetine administratiewe sake was bespreek. Die belangrikste is dat OKOSA nou drie persone het wat amateurlisensiëring hanteer, en dus die alfabet in drie kan verdeel, soos aan die einde van hierdie berig aangedui.

Die besonderhede, e-posadresse en telefoonnommers is in die kopie van die SARLNUUS op die web by www.sarl.org.za beskikbaar, kyk onder News.

Die SARL was op die vergadering verteenwoordig deur Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, Francois Botha, ZS6BUU, Fritz Sutherland, ZS6SF, Colin de Villiers, ZS6COL, en Jaco le Roux, ZS6PX.

NOTA AAN BULLETINLESERS: MOET NIE DIE VOLGENDE TOT AAN DIE EINDE VAN HIERDIE ITEM LEES NIE:

A-B-C-D-E-R-S-T
Khutso Mashile
011 566 3313
011 566 3314
Kmashile@icasa.org.za

F-G-H-I-J-K-U-W-X-Y-Z
Petunia Mashile
011 566 3657
011 566 3658
PMMashile@icasa.org.za

L-M-N-O-P-Q-V
Delmar de Witt
011 566 3339
011 566 3340
DdeWitt@icasa.org.za

KLAS B EKSAMENVERANDERINGE

In ooreenstemming met die klas A amateuradioeksamen, sal van studente wat vir Klas B-eksamen inskryf, verwag word om die alles van die hersiene regulasies, soos gepubliseer op die SARL se webwerf, te bestudeer. Die eksamenvraestel vir die Mei-eksamen sal op hierdie regulasies gebaseer wees. Die regulasies wat van toepassing is op beide die Klas A en B radioamateureksamen (RAE) kan afgelaai word van tinyurl.com/chshfzs of besoek die SARL se webtuiste by www.sarl.org.za en kies lisensiëring vir volledige besonderhede van die eksamenproses sowel as gratis studiegidse.

GEAFFILIEERDE KLUBS, MOET OPSIENERS EN HF ASSESSORS REGISTREER VIR 2013

Die sluitingsdatum vir geaffilieerde klubs om te registreer as 'n eksamensentrum was 1 Maart 2013. Die RAE-bestuurder het ingestem om hierdie datum te verleng tot 15 Maart 2013.

Opsieners en HF Assessor moet ook voor 15 Maart registreer. Hierdie registrasies sal vir die Mei en Oktober 2013 eksamens geldig wees. Besonderhede en die nodige vorms kan gevind word op www.sarl.org.za, kies lisensiëring en gaan af na RAE Admin. As jy meer inligting nodig het, stuur 'n e-pos aan rae@sarl.org.za.

BESOEK JY EUROPA DIE WINTER? NEEM IN DIE DARC HAMRADIO.

Die 64ste Bodensee en die HAM RADIO 2013-Konvensie, beide georganiseer deur die Deutscher Amateur Radio Club, sal vanaf Vrydag, 28 Junie tot Sondag 30 Junie 2013 in Friedrichshafen, Duitsland plaasvind. Hierdie gebeurtenis is lank reeds beskou as Europa se première amateurradiobyeenkoms met deelnemers van regoor die wêreld. Een van die hoogtepunte van vanjaar se Ham Radio byeenkoms sal 'n informele internasionale byeenkoms vir die verteenwoordigers van die IARU wees. Dit sal gehou word by die Zeppelin Museum op Vrydag, Junie 28. Die organiseerders voorsien ‘n busdiens vir besoekers tussen die tentoonstelling en die museum. Meer inligting oor Ham Radio 2013 kan gevind word by www.hamradio-friedrichshafen.de.

NOG 'N KLUB AFFILIEER BY DIE SARL

Hierdie week verwelkom die SARL die Low Veld Amateur Radio Club met die roepsein ZS6LOW as die 35ste klub wat hierdie jaar by die SARL affilieer. Welkom aan u.

NUWE LIDMAATSKAPAANSOEKE

Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is van die volgende radioamateurs ontvang:
Marianne van Dijk, ZS6ANA, (dogter van Ton van Dijk wat haar pa se roepsein oorgeneem het);
Yvonne van Dijk, ZR6TBL;
Michael Wade, M0EDU (hernuwing).
Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskapaansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.

HAMNET WES-KAAP

Hamnet Wes-Kaap is weereens gereed om hulp te verleen tydens belangrike sportbyeenkomste. Vandag 10 Maart, verskaf 8 van sy lede kommunikasie langs die belangrike en bedrieglike Suidelike roete, agter Tafelberg, van die Argus fietsren. Kommunikasie is daar moeilik en die organiseerders maak altyd staat op die Hamnet-operateurs om die boodskappe uit daardie gedeelte deur te kry.

Dan, op Paassaterdag, sal Hamnet ook geaktiveer word om kommunikasie tydens die volle 2-oseane wedrendag te verskaf. Die halfmarathon en die 56 km ren vind gelyktydig op 30 Maart plaas en daar sal 16 mobiele stasies wees wat sal rapporteer aan die gesamentlike operasionele sentrum by die Tygerbergse Rampbestuurkamer. Alle voertuie sal gevolg word en twee herhalers en 'n simpleksfrekwensie sal gebruik word om kontak met alle operateurs te behou.

Hierdie is net nog 'n voorbeeld van Hamnet wat in die Wes-Kaap die standaard stel vir gemeenskapsondersteuning in ons land.

MARION-EILAND

Twee radioamateurs sal deel wees van die oorwinteringspan op Marion-eiland en sal aktief wees vanaf Mei 2013 tot April 2014. ZS8C - Carson, ZR6CWI, is aangestel as die Ruimteweeringenieur en sal vir die volgende jaar aangewend word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (SANSA). ZS8Z - Dawid, ZS1BCE, is uiteindelik aangestel as die radiotegnikus na 'n vertraging as gevolg van 'n klerkale fout.

Belangrike inligting: die verwagte modusse sal hoofsaaklik ESB-en digitale modusse wees, hulle kan slegs gebruik maak van die bestaande kommersiële breëband HF antenna, en hulle QSL-bestuurder is ZS1HF. Meer inligting sal op hul onderskeie qrz.com bladsye geplaas word sodra dit geskep is. Ons verwag dat hierdie inligting binne die volgende 2 weke beskikbaar gestel sal word. Rig alle navrae op hierdie stadium aan ZS1HF.

KOMPETISIENUUS

Uitslae van die PEARS VHF/UHF kompetisie.
Die Kompetisiekomitee het 14 logs ontvang, 11 analoë en 3 digitale logs.

Analooguitslae.
Enkeloperateur, basisklas:
Nasri, ZS1NAZ, eerste in die 6 m en 23 cm kategorieë;
Ken, ZS2OC, eerste in die 4 m en 70 cm kategorieë;
Nico, ZS4N, eerste in die 2 m kategorie.
Enkeloperateur, veldstasieklas:
Terence, ZS2VDL, eerste in die 6 en 4 m kategorieë;
Terence, ZS2ABB, eerste in die 70 en 23 cm kategorieë;
Allan, ZS2BO, eerste in die 2 m kategorie.
Beperkte tydperk, veldstasieklas:
Al, ZS2U, eerste in die 6 en 2 m en 70 cm kategorieë.
Die Afdelingswenners is:
6 m - ZS1NAZ, ZS2OC, ZS2VDL en ZS6A;
4 m - ZS2OC en ZS2VDL, \\;
2 m - Zs1NAZ, ZS2OC, ZS2BO, ZS4N en ZS6PX;
70 cm Zs1NAZ, ZS2OC, ZS2ABB en ZS6PX;
23 cm ZS1NAZ en ZS2ABB.

Digitale uitslae.
Enkeloperateurklas:
Nasri, ZS1NAZ, eerste plek in die 6 en 2 m kategorieë.
Die afdelingswenners is ZS1NAZ, ZS2ACP en ZS6PX.

Baie geluk aan die wenners.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak nog steeds laag tot baie laag gaan wees. Daar is egter 'n moontlikheid van M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 59.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan smiddae oor dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir verdere inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
11 Maart - Logstate vir SARL Hamnet 40 m gesimuleerde noodkompetisie moet in wees na Hamnet Oos-Kaap, Al Akers, ZS2U, Clarencestraat 53, Westering, Port Elizabeth, 6025 of per e-pos aan contest@peham.co.za.
15 Maart – Laaste dag vir klubs om as eksamensentrums, opsieners en HF-assessors te registreer by www.sarl.org.za.
16/17 Maart - SARL BHF/UHF analoog- en digitale kompetisie 10:00 UTC 16 Maart tot 10:00 UTC Sondag 17 Maart.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE, met vertalings deur Louis de Bruin, ZS5LP.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003